Friday, September 26, 2008

Hermanus Oktober 2008

Vanaf die 1ste tot en met die 6de Oktober gaan ons ’n week rus in Hermanus. Ons vriende Jack en Lyn Summerscale van London gaan die week met ons deurbring en ons beplan ‘n “bumper” van ’n week. Een van die groot dinge gaan die walviskyk in Hermanus wees. Ons sien nogal baie daarna uit.

1 Oktober
Ons het hulle op Kaapstad Internasionaal ontmoet en Jack het goed gelyk na sy terugslag (twee kein beroertes) so twee – drie maande gelede. Hy het so ’n paar kilo’s afgeval. Lyn lyk nog presies dieselfde. Hulle is in Suid-Afrika vir 6 weke en dié is maar net die eerste.

Ons ry Hermanus toe na André en Yvonne se huis waar ons die volgende paar dae gaan bly. Ons besluit redelik vinnig om Kleinmond se kant toe te ry (terwyl die weer nog hou) en na ’n nuwe botanise tuin (Harold Porter) daar te gaan kyk. Dit was werklik pragtig en ons en die Summerscales het dit baie geniet. Blykbaar is die botaniese tuin nie so nuut soos ons gedink het nie en het blykbaar reeds in 1958 oopgemaak. Die aand het on “fish en chips” by die viswinkel in Hermanus gaan koop en tog te lekker gesmul aan die vars vis.

2 Oktober
Vandag vat ons pad L’Aughulus toe want die weer het ’n bietjie gedraai. Ons het deur Calendon gery, oor Napier en uiteindelik by die Suid-Punt van Afrika aangekom. Kyk maar na die foto’s om te sien hoe die wind ons hare gewaai het. Middagete was by die Pelican’s Harbour Cafe in Struisbaai gewees. Weer vars vis en ’n lekker goedkoop rooiwyn – Crane Red van Goedverwacht. Jack het sommer ’n paar bottles gekoop.

3 Oktober
Vandag vat ons die pad Greyton toe. Die eerste keer dat ons die dorpie sien en ja ’n juweel. Eet lekker by die Rosecafe. Blykbaar het ons die lekkerste roomys winkel of eerder sjokolade winkel gemis – Le Petit Chocolat. Die middag het ons tee in Villiers gedrink en die aand (baie koud) na die sonsondergang vanaf Rotary drive gaan kyk.
4 Oktober
Die weer het gedraai en dit is ’n pragtige dag. Gaan maak vandag ’n draai by die Fernkloof mark. Bekend vir hulle “scrambled egg” op ’n broodjie. Het lekker kaas gekoop vir na aan-ete. Vandag maar baie rustig deurgebring en het goeie foto’s van walvisse geneem.

5 Oktober
Ontmoet vir Andre en Yvonne en gaan proe wyn op Jakobs Vineyards. Pragtige dag en die plaas lyk so mooi. Lekker om wyn te drink op die wynmaker en eienaar se eie plaas. Geluk Andre en Yvonne.

Middagete by Marianas – en soos gewoonlik ’n wonderlike ervaring.

6 Oktober
Sien nogal uit na ons terugvlug – besige week, aangenaam maar baie uitputtend.

Brink Geslagsregister

Van Andries Willem Brink tot Nina Brink (132 jaar – 4 geslagte)
e9 Andries Willem *03/07/1876 & Maria Margaretha Kotzé *18/09/1886
f1 Glaudina Susanna Aletta *12/07/1903 & Johannes Lodewikus von Wielligh
f2 Abraham Justinus *17/11/1904 & Martha Magdalena Dunn *13/02/1900
f3 Anna Glaudina Louw *15/03/1906 & Guilliame Marais Malan *07/03/1901
f4 Izak Aldert *22/04/1909 & Anna Maria du Plessis *08/11/1915
f5 Andries Willem *22/07/1912 & Anna Sophia Catharina van der Linde *06/04/1908
f6 Willem Martin *26/05/1918 & Gertruide Jacoba Jacomina Claassen *02/12/1924
f7 Maria Margaretha *01/03/1923 & Johannes Willem Jacobus Joubert *29/11/1915
f8 Hieronymus *18/01/1928 & Leliën Frederina Escholtzia Zimmermann *05/09/1933
g1 Andries Willem *11/08/1955
g2 Frederick Wilhelm *13/07/1960
g3 Maria Margaretha *23/01/1961
g4 Hieronymus Friedrich *01/03/1964 & Karien de Lange *06/11/1966
h1 Emma Leliën *07/01/1999
h2 Nina *27/02/2002

Thursday, September 25, 2008

Kruger Wildtuin 2008


Gedurende Junie het ons gesin en die De Langes (Karien se broer André en Yvonne en hulle twee dogtertjies) vir ’n week lank vakansie naby die Kruger Park gaan hou. Ons het in “Kruger Park Lodge” gebly en soos in die verlede het ons dit ongelooflik baie geniet!!

Niks is lekkerder as om vroeg in die oggend op te staan nie(gewoonlik net op vakansie by die Kruger of langs die viswaters) met die vooruitsig om Kruger Park toe te gaan nie. Daardie koue wat aan jou vreet word oorweldig deur die pragtige sonsopkoms en dalk om een van die groot vyf te sien.

Ons was naby Phambeni hek gewees wat omtrent 13 km van Kruger Park Lodge was. Gedurende die week het ons omtrent drie keer wildtuin toe gegaan. ’n Mens moet redelik vroeg daar wees want net omtrent 500 karre word per dag by Phambeni togelaat. Aanvanklik het ons dit nie besef nie want groot was ons teleurstelling toe ons een dag om 13:00 daar aankom en meegedeel was dat die hek toe was.

Ons eerste dag by die park het ons redelik baie diere gesien. Ons was maar redelik bekommerd gewees oor die vier meisies (Emma, Nina, Ilse en Thea) wat vir ’n paar uur in die voertuig moes sit maar bo verwagting was hulle ongelooflik soet gewees. Die foto laat dit dalk nie so lyk nie.

Een van die dae wat ons nie park toe gegaan het nie het van ons ander meer waaghalsige dinge gaan doen. André, Yvonne, Emma, Nina en Ilse was baie braaf gewees en het “Skyway Trails” naby Hazyview gaan besoek. ’n Mens word aan ’n harnas vasgemaak en dan foefie slide jy oor die bome of deur die klowe. Ek en Karien moes na Thea kyk (ek was eintlik te bang gewees om te gaan swaai).

Hier is maar ’n paar van die honderde foto’s wat ek geneem het. (Volgens Karien is dit blykbaar al wat ek doen).

Ons beplan om hierdie avontuur jaarliks te herhaal en dit is nou die tweede jaar wat ons saam met die De Langes die tog aanpak.
Hierdie is die eerste inskrywing in on Familie Brink Blog. Die konsep is vir my nog vreemd maar ’n goeie vriend van my Gerhard (tans in Perth) het so ’n paar dae terug my bekend gestel aan hulle blog. Wat ’n lekker manier om nuus te deel. Dankie Gerhard! Hou maar die blog dop vir ons vier Brinks se wedervaringe hier in Suid-Afrika.

Hier is die grootste deel van ons gesin, natuurlik is ek nie daar nie, dit kom later:



Nina Karien Emma